Wat is liefde?

Dis ‘n groot vraag wat filosofe, digters, skrywers en elke vrou al probeer het om te antwoord, en tog kan niemand dit definieer nie.

‘n Tiener het eendag vir my gese ons kan nie liefde definieer nie, maar ons kan dit sien deur iemand se aksies. En daar slaan hy (ja, dit was ‘n vyftienjarige wyse jong man) die spyker op die kop. Hoe beskryf jy die gevoel wat in jou opswel wanneer jy na jou geliefde kyk, of as jou vyfjarige ‘n kersliedjie op die verhogie sing saam met haar maatjies?

Ons almal weet dat daar heelwat verskillende tipes liefde is, so dit is onnodig om selfs daaroor te praat. Wat wel nodig is om oor te praat is of die verskillende mense wat in ons lewens is en vir wie ons lief is, deur ons aksies kan sien hoe lief ons hulle het.

Dis tog so maklik om Hollywood te gebruik as ‘n maatstaf vir liefde. Die ‘realiteit’ wat flieks en romanzas skep rondom liefde is in die werklike lewe nogal ver van die waarheid. Ons almal weet dat dinge nie verloop soos die flieks dit wys nie. Ek weet nie van julle nie, maar ek word nie wakker met perfekte grimering nie en teen die einde van die dag is net die helfte van my maskara nog op my wimpers, die ander helfte le onder my oe om ‘n pragtige panda-effek te skep! Dis maar net een van ‘n miljoen voorbeelde van die onrealiteit wat ons van onsself verwag as Hollywood ons maatstaf is.

Romantiese flieks en boeke is vir my ‘n stoute vreugde wat my wegvat uit my elke dag se halwe-maskara realiteit en my laat sug met welbehae. Ek is diep bewus van hoeveel werk in ‘n verhouding ingaan en dat niks oornag perfek is nie, maar ‘n goeie skrywer of ‘n goeie draaiboek kan dit tog so mooi laat lyk. Dit is vir my ‘n ontsnapping van realiteit en as ek klaar ge’oe’ en ge’aa’ het, gaan ek terug na my regte lewe met regte mense wat my regtig lief het selfs al is daar partykeer regte krapplekkies.

Dalk maak ek dit sommer my uitdaging vir Februarie: Dat die ‘regte’ mense in my lewe weet hoe lief ek vir hulle is deur dit wat ek doen (en natuurlik se).

Wat dink julle?

Published in: on February 1, 2010 at 07:33  Lewer Kommentaar  
Follow

Get every new post delivered to your Inbox.